VRAE OOR BEESBRUSELLOSE BEANTWOORD
Brucella is ‘n genus gram-negatiewe bakterieë. Verskillende spesies diere word met verskillende Brucella spp. besmet en in elke spesie vertoon die siekte anders.
Brucella is ‘n genus gram-negatiewe bakterieë. Verskillende spesies diere word met verskillende Brucella spp. besmet en in elke spesie vertoon die siekte anders. Brucella spp. kom selfs voor in varke, honde, dolfyne en bobbejane. Beesbrusellose word veroorsaak deur Brucella abortus. Die organismes word deur besmette koeie uitgeskei tydens kalwing, waarna die siektetoestand dan deur ander beeste opgedoen kan word vanuit die besmette omgewing. Die siekte gaan gepaard met kwarantyn, aborsie storms, verlore produksie (verlies aan melkproduksie, swak kalwers, verlaagde fertiliteit in beide koeie en bulle) en die uitskot van besmette diere. Beesbrusellose is ook uiters belangrik vir mense omdat dit ‘n soönose is.
Kom die siekte orals voor?
Beesbrusellose is endemies tot Suid-Afrika en kom oor die hele land voor. Areas wat ‘n hoër populasie van beeste huisves, sal uiteraard ook meer gevalle aanteken en dit is wat ons sien op die kaarte. Die Brucella abortus organisme kan ook oorleef in van ons wildspesies, wat dan as ‘n reservoir dien. Beesbrusellose is een van die siektes waarvoor daar getoets word, as buffels in Suid-Afrika geskuif word.
Hoe word beeste besmet met die siekte?
Die hoofroete van besmetting of oordraging is per mond. Koeie is nuuskierige diere en sal aan ‘n pasgebore kalf of geaborteerde fetus gaan ruik en lek. So word die bakterieë opgeneem in die mond, dring deur die slymvliese en versprei deur die bloedstroom na die limfknope en reproduktiewe organe. Die bakterieë kan ook opgeneem word deur die slymvliese van die oog en spene. Daar is ‘n hoë risiko vir infeksie indien kunsmatige inseminasie met besmette semen gedoen word. ‘n Dragtige koei kan ook die infeksie oordra na haar ongebore fetus. Die melk van ‘n besmette koei bevat ook die bakterieë en is infektief vir beide diere en mense. Die organisme groei buitensporig maklik in die besette baarmoeder, soveel so dat daar ongeveer 100 miljoen infektiewe dosisse per nageboorte is. Dit beteken dat een siek koei die omgewing besmet met genoeg bakterieë om 100 miljoen ander koeie te besmet. Om sake nog meer te kompliseer, neem dit nie ewe lank vir koeie om tekens te wys van die infeksie nie. Die inkubasie periode is wisselvallig en kan enige iets van 30 dae tot 2 jaar neem.
Wat sien ons as diere besmet is met beesbrusellose?
Aborsies is die mees opvallendste teken dat die kudde moontlik besmet is met B. abortus. Ongelukkig vind aborsies gewoonlik net plaas met die eerste dragtigheid na besmetting. Daarna word kalwers meestal lewendig gebore. Ander tekens van moontlike besmetting in ‘n kudde is verlengde interkalfperiodes, hoër voorkoms van behoue plasentas onder die koeie en swak kalwers. By bulle vestig die infeksie in die testis en raak die diere onvrugbaar. Daar is dus ‘n indirekte effek op die fertiliteit van die kudde. In kroniese gevalle vestig die infeksie in die gewrigte en is die vorming van higrome
(‘n tipe gewrigsswelling) moontlik.
Hoe word brusellose gediagnoseer in ‘n kudde?
Indien daar aborsies op die plaas plaasvind en jou kalf persentasie swakker is as wat jy verwag het, moet daar ‘n vermoede wees dat die kudde dalk met brusellose besmet mag wees. Daar is huidiglik 2 metodes wat algemeen gebruik word om B. abortus te diagnoseer. Die mees akkuraatste toets is om die bakterieë te kweek in ‘n laboratorium. Die proses neem egter tussen 2-3 weke en is nie die maklikste toets om uit te voer nie. Met hierdie toets word monsters van die geaborteerde fetus en plasenta (nageboorte) of limfknope van ‘n dier na die laboratorium gestuur, waaruit bakteriële kulture dan gekweek en mikroskopies geïdentifiseer word.
Die meer algemene metode is om bloed te trek en te toets vir teenliggame teen B. abortus. Met ander woorde ons kyk of die bees blootgestel was aan die bakterieë en of die liggaam ‘n reaksie geloods het. Omdat hierdie ‘n indirekte metode is, kry ons wel somtyds dat die toets nie 100 % akkuraat is nie. Dit is hier waar die Staatsveearts en jou privaat veearts ‘n groot rol speel om die toetsuitslae te interpreteer. In melkkuddes word daar ook maandelikse toetse gedoen op die inhoud van die melktenk. Toetse om B. abortus infeksie te diagnoseer is dus nie 100 % akkuraat nie en gereelde toetse moet gedoen word om positiewe diere te identifiseer. Alle besmette diere word nie noodwendig met die eerste stel toetse geïdentifiseer nie. Daar gaan heel moontlik diere wees wat eers tydens die derde of vierde rondte toetsings positief toets. As produsent sal ek meer versigtig wees vir hierdie vals negatiewe koeie omdat hulle my groter skade kan berokken, vergeleke met die verlies aan koeie wat positief getoets het en geslag moet word. Daar is menige studiegevalle waar ‘n hoë persentasie positiewe diere in ‘n kudde na die eerste stel toetse drasties afneem met oppeenvolgende toetse. Maar na vele etlike maande van toetsing en enting was daar steeds enkele positiewe diere. Dit is die tipiese voorbeeld van die dinamika van die siekte in ‘n kudde, asook van die tyd wat dit neem vir ‘n kudde om van die besmetting ontslae te raak. Volgens die Brusellose Skema en die Wet op Dieregesondheid (Wet 35 van 1984) moet ‘n positiewe kudde vyf maal negatief toets voordat dit negatief verklaar kan word.
Hoekom is die siekte vir my as ‘n produsent belangrik?
Brusellose is ‘n staatsbeheerde siekte. Dit behels dat alle besmette diere aan die Departement van Landbou aangemeld moet word. Die Staat het die siekte geklassifiseer as ‘n Beheerde siekte a.g.v. die volgende redes: dit hou ‘n gevaar in vir mense, dit lei tot direkte ekonomiese verliese en dit het ‘n impak op die uitvoer van lewende hawe. Die ekonomiese impak van beesbrusellose vir die boer is enorm. Indien die kudde naïef is en skielik besmet word, kan die aborsie syfer wissel tussen 30 – 80 %. Die aborsies vind ook laat in dragtigheid plaas (tipies na maand 5) en kan selfs so laat as maand 8-9 gebeur. Die produsent verloor dus al die waarde wat hy in daardie dragtigheid belê het. In besmette melk kuddes is die beraamde verlies aan melkproduksie ongeveer 20 %. Omdat die siekte in beeste nie behandel kan word nie, moet alle diere wat positief toets geslag word. Die slagwaarde van die dier is nie altyd die totale waarde van daardie dier se genetika nie.
Wat presies beteken dit dat beesbrusellose ‘n soönose is?
Brucella abortus of beesbrusellose is gevaarlik vir mense maar selfs nog meer van belang is B. melitensis wat bokke besmet. Menslike brusellose wat veroorsaak word deur B. abortus staan bekend as Wisselkoors, terwyl die siekte wat veroorsaak word deur B. melitensis bekendstaan as Maltakoors. Brusellose in mense se algemeenste simptome is soortgelyk aan griepsimptome, m.a.w. koors, spierpyn, nagsweet en konstante moegheid. Die siekte verhoog ook die risiko van spontane aborsie, voortydige bevalling, miskraam en intrauteriene infeksie met fetale dood by vrouens. Mans kan testikulêre ontsteking en verlies aan vrugbaarheid ervaar. Depressie is ‘n algemene simptoom by mense wat kronies besmet is, wat selfs kan lei tot selfmoordgedagtes. Indien die siekte vroegtydig gediagnoseer word, is dit behandelbaar by mense. Die hantering van infektiewe kalwings- en aborsiemateriaal, asook die inname van ongepasteuriseerde besmette melk, is die hoofbronne van infeksie in mense. Boere, plaaswerkers, veeartse en abattoirpersoneel ervaar dus die grootste risiko vir infeksie. Beide entstowwe teen beesbrusellose op die mark is lewendig en dus kan blootstelling aan die entstof, byvoorbeeld deur ‘n naaldprik, ook lei tot infeksie. Enige persoon wat blootgestel word aan die entstof, byvoorbeeld deur ‘n naaldprik of dat die vloeistof in hulle gesig spuit, moet hulle mediese praktisyn besoek en die produk voubiljet saamneem.
Kan beesbrusellose enigsins voorkom word?
Daar is geen enkele stap wat gevolg kan word om brusellose te voorkom nie. Die kompleksiteit van die siekte verg ‘n multidissiplinêre aanslag op alle aspekte van bestuursmaatreëls. Daar is slegs 2 entstowwe teen beesbrusellose geregistreer in Suid-Afrika.
RB51 en S19 (G0101) deur Onderstepoort Biological Products. Volgens die Dieresiekte Wet van 1984 moet alle verse tussen die ouderdom van 4-8 maande ‘n enting ontvang teen brusellose. S19 mag slegs eenmalig aan ‘n vers toegedien word voor die ouderdom van 8 maande. Manlike diere kan nie geënt word nie. Verse moet verkieslik so na aan 4 maande as moontlik geënt word. Dit verkort die periode wat die jong versie nie beskerm is nie. Daar word ook nie moederlike immuniteit oorgedra van koei na kalf deur die kolostrum nie. Die unieke formulasie van RB51 verseker dat ‘n vers of koei wat ouer as 8 maande is, nie ‘n vals positiewe bloedresultaat sal toon na enting nie. Dit maak dit dus moontlik vir produsente om ouer diere te skraag of selfs die eerste enting te gee na 8 maande. Skraagdosisse kan toegedien word op enige ouderdom en dit verhoog die kudde se weerstand, veral in areas met ‘n hoë infeksiepotensiaal. Produsente moet sorg dat enige vers of koei wat RB51 ontvang, nie dragtig is nie. Beplan en voer ‘n entingsprogram uit saam met jou kuddeveearts. Die entstof alleen kan nie ‘n kudde beskerm teen B. abortus infeksie nie. Indien ‘n koei blootgestel word aan ‘n hoë genoeg konsentrasie van bakterieë, kan die weerstand wat die entstof verleen het oorskry word. Onthou ook dat die toediening van ‘n entstof nie gelykstaande is aan immuniteit nie. Verskeie faktore bepaal of ‘n dier immuniseer na ‘n enting en daar is gevalle waar diere geen immuniteit verkry na veelvuldige entstoftoedienings nie.
Lees meer oor RB51 deur die skakel te volg.